KOSHUISBRIEF : NOVEMBER 2010
Geagte Ouers
Die Koshuisbestuur en Koshuiskomitee wil graag aan elkeen van julle ons hartlike dank uitspreek vir die goeie wense, ondersteuning, aanmoediging en die wonderlike gesindheid waarin ons met mekaar kan omgaan. Die enkele probleme wat ons vanjaar moes hanteer, is byna sonder uitsondering in die beste gees van wedersydse respek en samewerking in die belang van die kinders opgelos. Ek wil almal uitnooi om met my kontak te maak indien daar iets is wat pla. Slegs deur direkte kommunikasie kan misverstande en disinformasie uit die weg geruim word.
Ek wil ook my dank uitspreek teenoor die koshuispersoneel sonder wie ons kinders se verblyf en versorging in ons koshuise nie moontlik sou wees nie. Elkeen van hulle speel ‘n onmisbare rol in die bedryf van hierdie wonderlike koshuise. ‘n Spesiale woord van dank aan die Superintendente vir die waardevolle werk wat hulle vir ons kinders doen. Ook aan die beheerpersoneel, adminpersoneel en die dienspersoneel my opregte dank en waardering vir hulle uitstekende werk. Ek glo dat ek dit ook namens die ouers mag sê.
Ek verstrek graag die volgende belangrike telefoonnommers vir direkte kontak:
Huis McFarlane :
1. Leerderaangeleenthede (dogters) : Mev Craül 083 493 9398
2. Leerderaangeleenthede (seuns) : Mnr Gerber 079 890 8624
3. Leerderaangeleenthede (skoolure) : Mev Stoman 021-872 3870
Huis Kalahari Visser :
1. Leerderaangeleenthede (dogters) : Mev Van Wyk 084 283 2505
2. Leerderaangeleenthede (seuns) : Mnr Eksteen 083 565 0313
3. Leerderaangeleenthede (skoolure) : Mev Pretorius 021-872 4066
Ek bring graag die volgende belangrike sake onder u aandag:
1. Kredietwet
Sien asb meegaande inligtingstuk aangaande die implikasies van die NASIONELE KREDIETWET op alle rekeningpligtiges. Let asb veral op dat koshuisgeld streng vooruitbetaalbaar is. Debietorders loop dus reeds op 2 Januarie. Alle direkte kontant- en internetbetalings moet ook reeds in Januarie plaasvind.
2. Losiesgeld vir 2011
Ons is bly om te kan sê dat die koshuisgeld vir 2011 slegs met 14% styg tot R 19 500.00 per leerder per jaar (R1 950 per maand oor 10 maande). Ek wil u versoek om dringend met u kind(ers) te praat oor die verantwoordelike gebruik van veral elektrisiteit.
Ons is veral verheug daaroor dat ons ten spyte van moeilike finansiële omstandighede sodanige beheer- en kontrolemaatreëls in plek het dat ons koshuisgeld relatief laag kan bly. Ons koshuis bied aan sy inwoners net die beste. Ten spyte daarvan is ons koshuisgeld steeds aansienlik laer (soveel as R5 000 per jaar) as ander vergelykbare skole s’n.
Hierdie prestasie is slegs moontlik deurdat almal met groot verantwoordelikheid optree en ons kinders saamwerk om ons koshuise ‘n ordelike en netjiese plek te hou.
Ouers moet asb dringend kennis neem van ‘n besluit van die skool se beheerliggaam dat koshuisleerders hul plek in die koshuise verbeur indien koshuis- EN / OF skoolgeld agterstallig raak.
3. Betaling per debietorder
Ons wil u baie sterk aanbeveel om u kind se losies per debietorder te betaal (sien opsies van betaalwyses) aangesien dit die volgende voordele inhou:
• Dit is ‘n baie gemaklike en moeitevrye manier van betaal
• Geen tjeks hoef uitgeskryf te word nie en geen posgeld is nodig nie
• Die risiko verbonde aan die hantering van kontant word uitgeskakel
• U debietorderaanvraag is beskerm teen bedrog, aangesien dit via die internet aangevra word
• Dit verbeter die koshuis se kontantvloei en pas gemakliker in by die kontantvloei van ouers wat van ‘n maandelikse salarisinkomste afhanklik is
• U hoef slegs ‘n eenmalige debietorder-magtiging te teken wat geldig bly vir die volle duur van u kind se verblyf in ons koshuise
• U kan die debietorder-magtiging te enige tyd kanselleer of wysig deur dit skriftelik onder die aandag van mev Oberholzer te bring
• U betaling sal altyd betyds wees – wat voordele vir u en die koshuise inhou
4. Opsies van betaalwyses
Ouers van graad 12-leerders (2011) moet asb let op ‘n besluit van die Skoolbeheerliggaam dat hulle volle koshuisrekening vereffen moet wees teen die einde van die DERDE skoolkwartaal. Indien die volle rekening nie op die genoemde datum vereffen is nie, mag die betrokke leerder nie vir die vierde kwartaal terugkeer na die koshuis nie. Hierdie besluit is genoodsaak deurdat die tendens begin posvat het dat ouers van gr 12-leerders nie hulle rekening vir die laaste kwartaal vereffen nie. Ouers wat maandeliks betaal, moet dus 9 betalings (Jan – Sept) van R2 167 per maand maak en diegene wat per kwartaal betaal, moet 3 betalings – soos op die datums hieronder uiteengesit – van R6 500 elk maak. Daar sal geen korting vir enige gr 12-leerder toegestaan word nie. Alle ouers moet dus die volle rekening van R 19 500 vir die jaar betaal. Alle agterstallige gelde sal op die eerste skooldag van die vierde skoolkwartaal aan ons skuldinvorderaars oorhandig word wat tot gevolg sal hê dat die wanbetaler geswartlys word.
U kan uit die onderstaande opsies kies watter betaalwyse u die beste pas:
4.1 MAANDELIKS PER DEBIETORDER
Voorwaardes :
4.1.1 Betaling geskied in 10 gelyke betalings – die eerste in Januarie en die laaste in Oktober (R1 950.00 per maand per leerder)
Ouers van gr 12-leerders moet 9 betalings van R 2 167 maak (sien nota bo-aan hierdie bladsy)
4.1.2 Betaling geskied op die eerste dag van elke maand
4.1.3 Indien u debietorder afgewys word, moet u voor die 15e van die betrokke maand per tjek of kontant betaal.
4.2 VIER KWARTAALBETALINGS (SELF OF PER DEBIETORDER)
Voorwaardes :
4.2.1 Betaling geskied in vier paaiemente van R4 875 elk:
4.2.2 Betaling moet geskied voor of op die volgende datums:
21 Januarie 2011
15 April 2011
22 Julie 2011
14 Oktober 2011
Ouers van gr 12-leerders se betalings moet op die eerste 3 datums gedoen word (sien nota bo-aan hierdie bladsy)
Debietorders word outomaties oorgedra van een jaar na ‘n volgende (tensy u anders reël).
4.3 SELF PER MAAND
Voorwaardes :
4.3.1 Betaling geskied in 10 gelyke paaiemente – die eerste voor 21 Januarie en die laaste in Oktober (R 1 950.00 per maand per leerder)
4.3.2 Betaling geskied per tjek, kontant of elektronies op die eerste dag van elke maand, met Januarie as die uitsondering.
4.4 JAARLIKS
Voorwaardes :
4.4.1 Betaling geskied voor of op 15 Februarie 2011 per tjek of kontant
LW: Hou asb streng by die gekose opsie
Indien u kontantvloeiprobleme ondervind en nie op ‘n spesifieke datum kan betaal nie, moet u asb VOORAF met mev Oberholzer ‘n skriftelike ooreenkoms vir die betaling van die agterstallige geld tref. Rekeninge word oorhandig aan ons prokureurs, Faure en Faure, indien dit op 90 dae te staan kom. Indien ‘n rekening oorhandig word, verbeur die betrokke leerder sy / haar losies met onmiddellike effek. Daar sal dan van die rekenpligtige verwag word om heraansoek te doen vir losies. Die aansoek sal slegs oorweeg word indien die rekening op datum gebring word en ‘n nuwe betalingsooreenkoms met die rekenpligtige gesluit is.
5. Koshuisnaweke vir 2011
Eerste kwartaal : 19 Januarie tot 1 April
• 28 – 30 Januarie
• 25 – 27 Februarie
Tweede kwartaal : 11 April tot 24 Junie
• 21 April – 2 Mei
• 20 – 22 Mei
Derde kwartaal : 18 Julie tot 30 September
• 6 – 9 Augustus
• 26 – 28 Augustus
Vierde kwartaal : 10 Oktober tot 9 Desember
• 21 – 23 Oktober
• 11 – 13 November
LW : Alle kosgangers moet die koshuis gedurende hierdie naweke verlaat. Die koshuis sal om 17:00 gesluit word op die Vrydagmiddag en weer op die Sondag om 16:00 oopgesluit word. Die laaste ete word Vrydagoggend bedien en dan eers weer op die Maandagoggend.
6. Telefone
Selfone word ‘n toenemende probleem, maar dit is ‘n probleem wat ons sal moet bestuur. Indien u u kind skakel, dra asb sorg dat u dit slegs tydens vrye tyd doen. Tydens stiltetye, studietye, etenstye en na ligte-uit mag geen selfoonoproepe gemaak of ontvang word nie. Oortreding van hierdie toegewing sal daartoe lei dat die oortreder die nodige straf volgens die strafprosedure sal ontvang. Selfone word op eie risiko aangehou en kan nie van die koshuis geëis word in geval van diefstal nie.
7. Naweekverlof
7.1 Weeklikse kosgangers
• Indien u hierdie opsie kies, verlaat u kind die koshuis elke Vrydag direk na skool en keer terug op die Sondagaand voor 21:00 of op die Maandagoggend voor 07:00
• Indien u kind op ‘n spesifieke naweek wil inbly, is hy / sy welkom om dit te doen en geld alle naweekreëlings ook vir hom / haar
• Geen leerder wat verder as 300 km vanaf die Paarl woon, mag as weeklikse kosganger geregistreer word nie
7.2 Kwartaallikse kosgangers
• Hierdie leerders moet twee koshuisnaweke per kwartaal neem (sien datums hierbo)
• Hierdie leerders kan nog twee ander geleentheidsnaweke per kwartaal neem, maar slegs met skriftelike toestemming (brief, e-pos of faks) deur ouer / voog
• Voorafgetekende briefies deur ouers is onaanvaarbaar.
• Skriftelike toestemming moet die Superintendent van Huis McFarlane bereik voor 14:00 op die Woensdag en Huis Kalahari Visser voor 14h00 op die Donderdag wat die geleentheidsnaweek voorafgaan en moet die naam en van, adres en telefoonnommers bevat van die gasouers waar u kind die naweek gaan deurbring en moet deur u as ouer onderteken wees
• Gedurende hierdie naweke is u kind dus die verantwoordelikheid van die gasouers. Ek wil sterk aanbeveel dat u minstens telefonies met u kind se gasouers in verbinding tree om die naweekreëlings te bevestig voordat u verlof daartoe vra
• Dit staan u as ouer egter vry om u kind op enige tydstip by die koshuis te kom oplaai indien u die Paarl of omgewing besoek. U moet asb net te alle tye u kind persoonlik by die onderskeie Superintendente uitteken voordat die koshuis verlaat mag word
• Al bogenoemde is te alle tye onderhewig aan die uitsluitlike voorwaarde dat u kind geen sport-, kategese- of detensieverpligtinge het nie
8. Verlaat van koshuis gedurende die week
• Vanweë die groot ontwrigting wat veroorsaak word deur ouers wat hul kinders op enige weeksdag sonder verlof uit die koshuis neem, word hierdie gebruik ten sterkste verbied
• Die Superintendente, Hoof, Koshuishoof of Beheerliggaam aanvaar geen verantwoordelikheid vir enige leerder wat die koshuis sonder verlof verlaat nie
• Geen leerder sal toegelaat word om op weeksdae by maats te gaan oornag nie – nie eers met die ouer se toestemming nie
9. Siekte
• Indien u u kind wil huistoe neem vanweë siekte, moet u die onderskeie Superintendente asb in kennis stel voordat u kind die koshuis verlaat
• Indien u kind siek word terwyl hy / sy tuis is, moet u die onderskeie Superintendente onmiddellik in kennis stel
• Indien u in gebreke bly om die koshuis hiervan in kennis te stel, sal dit beskou word as die wederregtelike verlaat van die koshuis
10. Partytjies / Funksies op weeksdae
• Geen kosganger sal toegelaat word om op weeksdae partytjies of ander funksies by te woon nie
• Indien u kind verjaar, staan dit u vry om hom / haar en u ander kind(ers) vir die aand uit te neem, maar geen ander kosganger sal toegelaat word om u te vergesel nie. Geen uitsondering kan in hierdie verband gemaak word nie
11. Studeerlampies / Bedlampies
• Studeerlampies is ‘n voorvereiste vir alle leerders wat toegelaat word om in hul kamers te studeer
• Ons beveel egter aan dat alle leerders bedlampies aanskaf vir studiedoeleindes
12. Elektriese apparaat
• Geen dompelaars, ketels, yskaste en elektriese komberse is toelaatbaar nie
• Slegs haardroërs, waaiers en band-/CD-spelers (1 per kamer) word toegelaat
• Slegs verwarmers wat warm lug uitblaas is toelaatbaar. LW : Geen verwarmers met oop elemente of ‘n oop hittebron nie. Geen asbesverwarmers nie.
• Urns, mikrogolfoonde en yskaste is op elke vloer beskikbaar vir die gebruik van leerders
13. Losiesgelde
• Baie dankie aan elke ouer wat sy / haar finansiële verpligting teenoor die koshuise getrou nagekom het
• Ons was ongelukkig verplig om ‘n aantal rekenpligtiges aan invorderaars te oorhandig aangesien hulle na herhaalde beroepe in gebreke gebly het om hul agterstallige rekeninge te vereffen. Hierdie leerders sal nie toegelaat word om in 2011 na Huis McFarlane terug te keer nie.
14. Vroeë vertrek met vakansie
• Let asb op dat die informele vergunning wat gemaak is dat leerders wat buite die grense van die Weskaap woon, 24 uur vroeër met vakansie mag vertrek, reeds in 2008 formeel teruggetrek is
• Geen koshuisleerders sal dus voortaan die skool voor 11:00 op die dag waarop die skool sluit, mag verlaat nie
• Geen verdere vergunning sal in hierdie verband gemaak word nie
• Daar word elke kwartaal ‘n eksamen of ‘n toetsreeks geskryf tot op die dag waarop die skool sluit. Geen vraestelle mag vroeër geskryf word nie.
15. Vervoerreëlings
• Alle vervoerreëlings moet minstens 5 skooldae vooruit regstreeks deur die ouers aan mnr Joël van Eeden (083 7457 380) deurgegee word
• Vervoer sal slegs verskaf word na busse en die lughawe op die tye wat vooraf deur mnr van Eeden bepaal word
• Vervoer sal slegs verskaf word voor en na skoolvakansies en uitnaweke
• Mnr van Eeden is ook geregtig op private tyd tydens uitnaweke en skoolvakansies en daarom sal dit slegs billik wees om reeds voor die vakansies en uitnaweke ook die terugkomreëlings met hom te tref. Moet hom asb onder geen omstandighede gedurende sulke naweke en vakansies probeer kontak nie
• Vervoer na busse wat vanuit die Paarl vertrek, sal gratis verskaf word. Vervoer na Malmesbury en die lughawe sal verskaf word teen R100 per leerder per rit aangesien die koshuis die bestuurders vir hul diens moet vergoed en die busse by die Trust moet huur.
• Geen leerder sal vervoer word sonder ‘n inbetalingsbewys wat deur Mev. Chrissie Kemp uitgereik sal word na betaling nie.
• Geen betaling deur middel van Internet word aanvaar nie.
16. Digitale kluise
Ons is in die proses om in alle kamers digitale kluise te installeer in ‘n poging om die toename in diefstal te probeer bekamp. Hierdie kluise kan gehuur word teen R 300 per jaar. By betaling van die huurgeld sal elke leerder ‘n persoonlike sleutel ontvang vir gebruik van die kluis.
17. Strafstelsel
Neem asseblief kennis dat ons ons strafstelsel hersien het en dat dit vanaf Januarie 2011 in werking sal tree. Elke leerder gaan die strafprosedure op skrif ontvang en u kan dit van ons webtuiste aftrek.
Die koshuishoof sal voortaan direk verantwoordelikheid vir die leerders se dissipline aanvaar.
18. Nuwelinge
Alle graad 8’s (2011) van Huis Kalahari Visser kan op Sondag 16 Januarie 2011 tussen 09:00 en 14:00 in Huis Kalahari Visser se voorportaal aanmeld vir die afhandeling van administratiewe reëlings. Op daardie stadium sal koshuisgangers reeds in kamers ingedeel wees en kan hulle hul persoonlike besittings (bv. skooltas, skoolklere, ens) wat hulle nie tydens die Graad-8 kamp gaan gebruik nie in hul kaste toesluit.
U is verantwoordelik om daarna u kind om 15:00 by die Carel Redelinghuys Sentrum (skool) te besorg vir die graad 8-kamp.
Mnr. Genis (skoolhoof) wil graag om 15:00 met alle graad 8-ouers (koshuis en dorp) in die Carel Redelinghuys Sentrum praat.
Na afloop van bogenoemde vergadering sal mnr Eksteen (HKV-Superintendent) met alle Huis Kalahari Visser ouers wil gesels.
Ek en my gesin wens u ‘n vreugdevolle Feesgety en ‘n voorspoedige 2011 toe.
Groete
ANDRé OBERHOLZER
KOSHUISHOOF
2010-11-23